H/v Albrecht en Genl Hertzogstraat, Dan Pienaar, Bloemfontein

Waarvandaan Kom Ons?

Dr. Tienie Zeeman

Die NG Kerk Berg-en-Dal is op 22 September 1956 gestig as dogter van Bloemheuwel-gemeente in Bloemfontein, met die nuwe Dan Pienaar-woonbuurt in en rondom die Tempe-vallei, as bedieningsterrein.  Die gemeente het met 720 lidmate en ’n kerkraad van 15 ouderlinge en 15 diakens tot standgekom, en die eerste leraar is in Februarie 1957 bevestig – dr. Tienie Zeeman.

Eerste tydperk, 1956-1965: “Vestiging: Gereformeerd en selfstandig”

Dan Pienaar en die gemeente was ’n jong, groeiende gemeenskap: jong gesinne; in die beginjare van hul beroepslewe.  Van meetaf aan was lidmate entoesiasties betrokke in hul eie omgewing, maar ook in die stads- en universiteitsbesture sowel as op provinsiale- en nasionale owerheidsvlakke.  Siësta Tehuis vir Bejaardes is in 1957 geopen, maar het in die beginjare hoofsaaklik Engelssprekende inwoners gehad.  Daar het besonder noue bande met die Laerskool Willem Postma en met ’n sendinggemeentetjie in Zululand bestaan.  Berg-en-Dal se kerkgebou by die groot sirkel in die hart van die woonbuurt, is op Hemelvaartdag in Mei 1959 ingewy.  Vir dr. Zeeman moes die jong gemeente gereformeerd en selfstandig van karakter wees – sowel in ’n kerklike- as sosio-kulturele sin.  Ander belangrike inisiatiewe tydens die eerste jare van sy bediening was die daarstelling van goeie kategese-literatuur en ’n weeklikse Gemeentebode; die vestiging van ’n Sotho-bediening onder huishulpe en tuinwerkers; en die afstigting van die NG Kerk Heuwelsig (1963).

Tweede tydperk, 1966-1975: “Verbreiding, en nuwe toewyding”

Dr. Zeeman en ’n ywerige Kerkraad en Sustershulpdiens het voortgegaan om die jong gemeente op te bou.  Haar werksaamhede het uitgebrei en klem is op ’n nuwe toewyding gelê.  Van die projekte was die bou van ’n kerksaal (1967); die begin van ’n afsonderlike “kleinkerkie” vir jong kinders; die stigting van Hoërskool Dan Pienaar in ons kerksaal (1972); die loodsing van ’n wydlopende evangelisasie-aksie en ’n Engelstalige bediening met ’n afsonderlike erediens in 1972.

In hierdie jare is dr. Floris Botha as tweede leraar beroep.  Sy koms in 1971 het tot die aankoop van ’n tweede pastorie (Ladysmithstr. 16) gelei.  Die klem in sy bediening het anders gelê as dié van dr. Zeeman: hy was besonder positief oor die werk van die Jeug-tot-Jeugaksie; oor sendinguitreike deur jongmense in die plaaslike omgewing en oor parakerklike organisasies soos Aksie Morele Standaarde.  Dr. Zeeman is in 1975 na die Hugenote Kollege in Wellington beroep, ná 18 jaar in Berg-en-Dal.

Dr. Floris Botha
Ds. Jan Slabbert

Derde tydperk, 1975-1982: “Verskuiwing”

Die middel-sewentigerjare het in die teken van sosio-ekonomiese styging onder Afrikaanssprekendes gestaan, maar ook oplaaiende spanning in die breëre konteks van ons land.  Die hoogliggende gedeeltes van Dan Pienaar is bebou; ouer huise opgradeer en op Prellerplein het Kontiki Kleuterskool geopen (1976).  In hierdie tyd is ’n volgende leraar beroep, naamlik ds. Jan Slabbert (1975).  Die kerkraad het besluit om ’n nuwe pastorie vir hom aan te koop (Albrechtstr. 60).  Die bediening onder Sothosprekendes is deur ’n evangelis behartig en hul weeklikse byeenkoms is uit motorhuise na ’n sylokaal by die kerksaal verskuif.  In 1978 het ’n aantal vrouelidmate met ‘n “Werkersklas” vir swart vroue begin.  Daar was by die leraars kommer dat Berg-en-Dal trekke van ’n tipiese (Afrikaanse) welvaartsgemeente begin vertoon het.  Beide leraars se gesondheid was ook nie sterk nie en in 1982 het dr. Botha met vervroegde pensioen gegaan.  Dit was die jaar waarin die gemeente ’n kwarteeu oud geword het.

Vierde tydperk, 1982-1996: “Voortgang, met versigtige verandering”

Ds. Gert Terblanche is as vierde leraar vir die gemeente beroep.  Met hom het daar weer ’n breër koninkryksvisie in die gemeentelike bediening gekom: lidmate was steeds wyd betrokke en die gemeente was geseënd met besondere kundigheid in hul geledere.  Hiervan was die groot en goed-gestruktureerde kerkraad ’n voorbeeld, met die finansiële-, eiendoms- en jeugkommissies prominent.  Met die gemeentelike bediening is voortgegaan én versigtige veranderinge is geïnisieer.  Die omgewing het verander: na die noordweste is Heuwelsig as nuwe woonbuurt aangelê, en ná ’n samesmelting is die nuwe Hoërskool Sentraal hier gevestig (1981) met hul koshuis, Huis Eie Haard (1985).  Gemeentegetalle het gestyg en ’n tweede oggenddiens is ingestel.  Jeugbediening en kategese was ’n prioriteit; ook gemeentebou.  ’n Kwartaalblad, Die Fontein, is uitgegee.  Gemeentekonserte is gehou en ’n “afdak” is gebou.  ’n Groot aantal predikante (sinodaal- en afgetrede) was in die gemeente woonagtig en het in die kerkraad gehelp.  Alhoewel korttermyn sendingaksies minder was, is ’n jaarlikse sendingnaweek deur ds. Lourens Erasmus gereël en het die eerste Kleurlingleraar op ’n NG-kansel in Bloemfontein, hier in Berg-en-Dal gepreek – ds. Collins Gordon, in September 1983.  Soos die gemeenskap waarin sy gevestig was, is die gemeente in die dramatiese oorgangsjare tussen 1983 en 1994 meegesleur – vir haar lidmate was sy ‘n veilige hawe.  Daar was ’n diepe dankbaarheid toe die magsoordrag van 1994 vreedsaam en demokraties geskied het.

 

Die matigende rol van ’n leiersfiguur in die NG Kerk soos prof. Pieter Potgieter (moderator en dekaan, sedert 1995 as leraar gekoppel) in Berg-en-Dal in hierdie jare, kan nie onderskat word nie.  Intussen het die gemeente verouder en meenthuise soos Max M’rel en Shangrila is gebou.  Gemeentelike geldsake was onder druk.  In die NG Kerk het teologiese verskuiwings gekom; daar was ’n verskeidenheid van liedbundels in gebruik en lidmate kon nou volgens hul bedieningsvoorkeure oor gemeentegrense inskakel.  In April 1997 het ds. Slabbert afgetree.  Berg-en-Dal was vier dekades oud en het uit 880 belydende- en 260 dooplidmate bestaan.  Daar het ’n behoefte aan verandering en vernuwing geleef, veral ook in die eredienste.

Ds. Gert Terblanche
Prof. Pieter Potgieter
Ds. Jan Lubbe

Vyfde tydperk, 1997-2005: “Verantwoording”

Die feit dat die gemeente Berg-en-Dal in Julie 1997 slegs haar vyfde voltydse leraar – ds. Jan Lubbe – ontvang het, is merkwaardig.  Alreeds was daar tekens in die plaaslike- en nasionale konteks dat Suid-Afrika ‘n tyd van groot transformasie beleef en die gemeente moes haar oor haar eie bestaan en roeping verantwoord.  Finansieël was die jare 1996 tot 2002 baie moeilik en is verskillende pogings aangewend om tekorte aan te vul, waaronder die hou van ’n jaarlikse kermis en die benutting van reserwefondse uit die tagtigerjare.  Met die Spesiale Dankoffer van 2003 het ’n onverwagse ommekeer gekom, toe R 152 000,00 ingesamel is (’n styging van 39% teenoor die vorige jaar!).  Daar was nuwe entoesiasme in kerkraadsgeledere en ’n besinningsproses oor die toekoms van die gemeente is begin, wat in twee bewegings voltrek sou word (1999/2000 en 2003/2004).  Dit het in die teken van ’n verankering in en vernuwing met die Woord gestaan: die kerkraad het weer selfstandig standpunte oor o.a. die “Kindernagmaal” en die samestelling van die Vrystaatse Sinode ingeneem; betrokkenheid by teologiese opleiding aan die UV het gegroei (sowel NGK as NGKA); daar was ’n oplewing in die jeug- en gesinsbediening; die liturgiese viering van die kerkjaar het verdiep; ekumenies is daar bande met die Engelssprekende Andrew Murray-gemeente en die GKSA Bloemfontein-Noord gesmee; ’n aantal deurlopende sendingprojekte is gevestig; ’n nuwe kwartaalblad (woord@bergendal) is uitgegee; kategeselokale is opgeknap; ’n Gedenktuin is uitgelê en die orrel is in twee fases verskuif en opgegradeer.  Dit was in ’n pastorale sin ook veeleisende jare en in 2005 het ds. Lubbe ’n sabbatsjaar geneem; ds. Jurie Badenhorst het in sy plek waargeneem.  Die jaar daarna was ’n feesjaar: Berg-en-Dal was ’n halfeeu oud en ‘n verskeidenheid van projekte is geloods, o.a. ’n geseënde feesnaweek en die uitgawe van ’n gedenkboek, getiteld: Berg-en-Dal ’n halfeeu voor God se aangesig, 1956-2006.  Met die viering van ds. Terblanche se 25-jarige jubileum in 2007 en die ingebruikneming van die “nuwe” orrel, het die gemeente haar sesde dekade binnegegaan.